Kom lees gerus saam op ons nuwe blog Reg of Weg oor ons besluit om ‘n rugsak-reisavontuur aan te pak en om terug te gaan na Suid-Afrika en al die oorwegings, beplanning en struikelblokke wat daarmee gepaard gaan.
Liefde
22 FebVaaltynsdag het gekom en gegaan en almal het bespiegel oor die liefde – hoe dan nou anders.
In ons huishouding is dit nie juis ‘n dag wat veel aandag trek nie. Wie wil nou immers net een dag in die jaar uitsonder vir die liefde.
Vir my is liefde soveel meer as rooi harte, sjampanje borrels en kerslig etes.
Vir my is liefde:
1. Manlief wat steeds leepoog na my kan kyk al ken hy my nukke, geheime en onsekerhede al vir amper 10 jaar lank.
2. My boetie wat my agter die kraag gryp en blou moord skree vir my ma as ek by ons huis se voorhekkie wou uitstap om die wêreld deur my drie-jarige oë te gaan verken.
3. Mámá wat haar kreatiwiteit gebruik en vir my die allermooiste hangertjie maak om op my troudag te dra.
4. Pa-Maplotter wat skelm vir die huiskat biltong gee wanneer die res van ons familie al lankal slaap.
5. My oupa wat sy klapperkoekies (wat ek vir hom gebak het as laerskoolkind) een vir een met my ouma deel al het hy die bak skamtig iewers in sy klerekas weggesteek.
6. Die knop in my keel as ek luister na Andrea Bochelli se The Prayer en ek dink aan die genade van God.
7. Charlie en Pannekoek wat stert-swaaiend by die hek vir my kom groet as ek kuier op Maplotter plasie.
8. ‘n Oproep van ‘n vriendin op die dae wat soms gekleur is met ‘n tikkie swart.
Dit om maar net ‘n paar te noem.
Tags: liefde
Trou dilemmas
10 FebMy eie troue was ‘n mengsel van intimiteit, samesyn en liefde. Net ons saam met ons naaste vriende en familie op ‘n wynplaas naby die Paarl. ‘n Perfekte Desember dag met blou lug en net ‘n effense briesie om die ergste hitte te verdring. Glasies wat rinkel, mense wat lag en ‘n bruid en bruidegom wat straal van geluk.
Geen dilemma wat betref ons troudag net so bietjie meer as 3 jaar terug.
Oor so bietjie minder as 3 weke staan ek egter vir die eerste keer in die skoene van ‘n bruidsmeisie.
Die bruid is geen dilemma, sy is ‘n pragtige nooi van Bloemfontein wat tans in London woon. Om seker te maak dat die troureëlings glad verloop het sy ‘n paar regterhande in Suid-Afrika aangestel om dinge namens haar in orde te kry.
My hooftaak van ondersteun-die-bruid is dus heel maklik – ek hou van gesels, kan al ‘n paar wyshede kwytraak oor die huwelik, het eerstehandse kennis van die senuwees wat alle bruide kort voor die troudag beetkry en weet immers uiters goed hoe om ‘n sjampanje glas vol te hou.
So die dilemmas?
1. Februarie in Amsterdam is nou nie presies die maand waartydens die son vriendelik sal instem om jou bleekwit vel saggies te streel met sy goudkleur vingers nie. So nou is dit ‘n keuse tussen Nicole Kidman speel of ‘n kans te waag met die spuitkannetjie. Maar sê nou maar net ek kom geel-oranje uit?
2. Een oplossing vir die bleekwit lyf is om ’n pragtige somersrok te koop wat die lyf vlei en hopelik die meeste aandag sal trek. Om egter te probeer om in die middel van die winter ’n rok vir ‘n sonnige Suid-Afrikaanse troue te koop is ‘n saak van onmoontlikheid tensy jy sowat R8000 wil uitgee op ‘n tabberd van een of ander ontwerper se lente-reeks. Ek kan wel gratis vermaaklikheid verskaf deur om net in my onderklere en hoë hakskoene op te daag, maar ek het so idee dat dit gesien sal word as ’n skandelike uitvoer van my taak as bruidsmeisie.
3. Verlede jaar het ons nouliks die aswolk vrygespring. Die senuwees was klaar, maar gelukkig het vlugte so twee dae voor ons vertrek na Suid-Afrika teruggekeer na normaal. Nou is dit weer die Egiptenare wat moleste maak. Wat is die kans dat dinge juis nou op die vooraand van ons vlug met Egypt Air so plofbaar is. Ons gedagtes is egter by die inwoners van Cairo, nie net om betyds te kan vlieg nie, maar ook oor die onsekerheid van wat die dag van môre vir hulle inhou. Die vraag is egter of ons maar solank moet begin swem of dalk ons eie vlerke moet praktiseer.
Ongeag die dilemmas tel ons die dae op die kalender af en kan ons nie wag om saam met die bruid en bruidegom op Afrika-bodem makietie te hou nie.
Tags: bruid, bruidsmeisie, dilemma, trou
Botterbroodjies vir Brombeer
7 FebDie winterweer laat my wonder of ek nie ‘n beer in my vorige lewe was nie, want my grootste begeerte is om onder die komberse weg te kruip totdat dit weer lente is. Maar die beerbloed loop nie net deur my are nie.
Lang ure en stres by die werk het Manlief verander in die sogenaamde Brombeer. Dit is elke jaar se storie so ek het my berus daarby. Weereens word daar stip gefokus op einde Februarie, want dan behoort die simptome een na die ander te verdwyn en sal ek hopelik weer so middel Maart vir Manlief terug kan verwelkom.
So ek besluit toe om van my vroulike pligte na te kom en Brombeer te verras met tuisgemaakte botterbroodjies, aarbeikonfyt en geklitste room vir ontbyt.
Mámá het hoeka onlangs ‘n nuwe resep gestuur en is ek deesdae gretig om nuwe idees uit te probeer. Die resep leer my hoe om botter te verbruin (‘n Franse tegniek genaamd beurre noisette) om sodoende ‘n ekstra neutsmaak aan die botterbroodjies te gee.
Wonder bo wonder is die eerste probeerslag ‘n sukses en kort voor lank was die ontbyt op die skinkbord, gereed vir bediening in die bed. Ek wou eers ‘n klein kaktus-plantjie ook op die skinkbord sit vir ‘n bietjie humor, maar bedink toe myself. Wie weet wat sal gebeur as ‘n mens sirkusnar probeer speel met ‘n brombeer?!
Brombeer het sy slagtande gewys toe ek hom wakker maak……maar darem net om die een botterbroodjie na die ander te verorber.
Tags: botterbroodjies, Manlief, ontbyt
Tjoklit polisie
4 FebDie tjoklit polisie het deesdae my epos adres en word ek gedurig aangepraat oor my verslawing aan die soetigheid. Vandag is daar voorgestel dat ek in die aand eerder aan ‘n wortel moet knaag. Ek kon nie anders as om onvroulik te snork en terug te antwoord dat ek mos nou eenmaal nie ‘n haas is nie (niks teen wortels nie, maar dit is mos darem nie dieselfde nie!).
Die droë antwoord terug was dat ek dalk die paashaas is met ‘n soettand soos min!
Om my te tart is Bakken met Passie, een van my gunsteling bakkerye, nog oop toe ek vanaand huis toe stap. Die oomblik toe ek gaan stilstaan langs die winkelvenster, begin die lekkernye te bewe van opgewondheid, want hulle kon sommer sien dat hierdie verslaafde gaan nie aanstap sonder een (of drie) van die lekkernye.
Na 10 minute besluit ek dat vanaand se aandete kan niks anders wees as ‘n dekadente sjokolade mini-koek met klapper en creme anglais.
En wat ‘n bederf – die sjokolade smaak was sag dog prominent, die binnekant was verrassend gooyee en die wit sjokolade met klapper vlokkies bo-op was genoeg om my behaaglik te laat sug.
Die tjoklit polisie sal seker van hulle laat hoor!
Tyd vir ‘n nuwe blaadjie
3 FebIn plaas dat my bloed deesdae druis met lewenslus en positiewe borrels, voel dit al asof die koue winter deesdae behoorlik in my are kom oorlog voer. Gelukkig is dit nie die eerste winter vir ons hier oor die water nie en weet ons dat ons net stip moet fokus op die einde van Februarie - dan sal dit al klaar beter gaan.
Vandag se flou sonnetjie en blou lug het egter my bloed egter laat kriewel.
Is lus om iets te doen ANDERS as werk so ek besluit toe sommer dit is tyd vir ‘n nuwe blaadjie vir die blog. Van nou af sal Om te wonder en Foto, Kiekie, Film sommer in een gedoen word en sal ek die storie agter die foto ook vertel….’n soort van foto-dagboek dalk.
Om julle te laat deel in die koue van Amsterdam – hier is ‘n foto wat ek gedurende Desember geneem het. Die sneeu het die kruising en parmantige Amsterdam gewel huisies by Reguliersgracht en Keisergracht in ‘n pragtige winterlandskap omskep en is dit beslis een van my gunsteling plekke in Amsterdam.
Dit is ook lekker naby aan Rembrandtplein waar jy kan ontsnap van die koue en ’n heerlike warm koppie koffie verkeerd (of te wel cafe latte) kan drink.
Gedagtes
31 JanDit is nie wat jy weet nie, maar wie jy ken wat gewoonlik die verskil maak. Die ook volgens my die rede hoekom ons almal een of ander tyd dieselfde ketting-eposse ontvang. Sannie stuur die epos vir Jannie, Jannie stuur die epos vir Koos en Koos stuur dit vir my en ek stuur dit vir jou. Voila, die sirkel is voltooi en ons lees almal dieselfde epos.
Kruks van die saak is dat julle dalk al die volgende gedagtes iewers op ‘n epos raak gelees het, maar dit is tog die moeite werd om dit weer te lees.
1. Verstaan dat geluk nie op besittings, mag en prestige gegrond is nie, maar op jou verhoudings met mense wat jy liefhet en respekteer.
2. Doen werk waarvan jy hou en wat jou tyd en talente waardig is.
3. Gee vir mense meer as wat hulle verwag en doen dit met ‘n glimlag.
4. Word die mees positiewe en entoesiastiese mens wat jy ken.
5. Behandel almal wat jy ontmoet soos jy graag behandel wil word.
6. Verbind jouself om voortdurend te verbeter.
7. Wees lojaal, eerlik en selfgemotiveerd.
8. Disiplineer jouself om geld te spaar al verdien jy hoe min.
9. Hou op om ander te blameer en neem verantwoordelikheid vir elke aspek van jou lewe.
10. Wees dapper en moedig. As jy terugkyk na jou lewe gaan jy jammerder wees vir die dinge wat jy nie gedoen het nie as die dinge wat jy wel gedoen het.
Gevaarlike mantra
21 JanEk het ‘n mantra vir 2011……. onwetend dat my mantra gevaar inhou.
Niksvermoedend trek ek my drafklere aan by die werk, sit my sak op my rug en trek die bande styf. Dit is donker en koud, maar wikkel moet die boude wikkel. Dit is mos immers deel van my mantra.
Halfpad huis toe dwaal my gedagtes na die juistheid van my besluit om na die lang dag huis toe te wil draf. My bene voel bietjie lam, my oë wil-wil nie lekker fokus nie en die bors brand.
Die huise langs die kanaal se ligte wink vriendelik vir my en ek glimlag half skeef terug.
Ek sien nie die sypaadjie wat geniepsig sy sement hand oplig om my te pootjie nie -niemand glimlag ooit vir hom skeef nie; ons vertrap hom net gewoonlik onder ons voete sonder ‘n sweempie van dankbaarheid.
My reaksie is te stadig na die dag se breinspoel agter die rekenaar en ek voel hoe my regterbeen swik. Ek struikel nog twee treë en maak uiteindelik (wat na ‘n ewigheid voel) kennis met die ongenaakbaarheid van die sypaadjie.
Daar is niks vrouliks daaraan nie. Nee, dit is ‘n “seil-soos-’n-slang-Fiela” valslag.
Soos blits spring ek regop en kyk vervaart rond. Hoor ek dalk iemand skaterlag? Niemand in sig. Daar is tog iets. ‘n Trilling onder my voete wat my laat dink aan iemand wat met tevredenheid uit sy maag lag.
Ek kyk half wantrouerig na die sypaadjie.
‘n Vinnige ondersoek vir gebreekte bene of geswikte enkels lewer niks op nie. Die handskoene help duidelik nie net vir die koue nie, maar is ook goeie voorsorg teen sypaadjie skrape. Die regterboud en elmboog voel wel bietjie broos so ek hoop ek kan hulle ten minste inspan vir bietjie simpatie by die huis.
Versigtig om die sypaadjie nie weer aanstoot te gee nie, hervat ek bewerig my drafstap huistoe.
Van nou af sal ek onthou om met meer waardering vir sypaadjie te groet en dankie te sê dat hy my die pad huistoe vergesel.
Of anders gaan ek dalk my mantra so bietjie moet aanpas……..
Vra is vry
20 JanEk is ‘n bok vir sports so hou sommer baie van die nuwe tag-speletjie wat begin is deur PlaasJupp en na my kant toe gestuur is deur Olga. Ek tag weer vir Gogga, Anna, Charms, Jan Twak en Skoor.
Die reêls – Vra my enige iets en ek moet antwoord. Vrae word beperk tot 10 per blogger. Speel saam en onthou om enige iemand anders ook nader te hark met ‘n tag.
Die speletjie is geldig tot hierdie inskrywing met ‘n nuwe een vervang word.
Tags: Humor, Tag speletjie
2011
17 JanRobbie Wessels sing in een van sy liedjies van “liewe ouers” – wel, vandag wil ek sê – liewe ouers maar die jaar het vinnig begin! Ek sukkel nog om van die nuwe jaar blues ontslae te raak en te besluit oor alles wat ek hierdie jaar wil doen en so warrel die eerste 2 weke verby.
Hier is my mantra vir hierdie jaar:
1. Prikkel jou brein – sit af die televisie, lees meer, voer interessante gesprekke, dink ‘n bietjie, doen ‘n paar blokkieraaisels of speel kaart of Suduko – enige iets wat die grysstof so bietjie laat bokspring in hulle skuiling hier aan die bokant van jou lyf.
2. Eet lekker maar gesond – die lewe is te kort om te probeer leef van water en rys alleen, probeer nuwe respete, eet meer groente, vrugte, vesels en vis, maar bederf jouself ook met smelt-in-die-mond-en-toon-omkrul lekkernye vir wanneer daar ‘n geleentheid is om te vier - belangrikste is om die balans te onthou.
3. Wikkel daai boude – gaan stap met die honde, klim die trappe na jou kantoor op die 5de verdieping, sit ekstra woema in agter die stoot van die grassnyer of stofsuier, gebruik vir ‘n slag jou gym lidmaatskap, swem, dans – enige iets wat die bloedselle so bietjie laat bruis deur die nou gange van jou are.
4. Maak ‘n verskil in iemand anders se lewe – gaan kuier by die oumense van die tehuis in die buurt, pas iemand se kinders op sodat die ma vir ‘n slag haar hare kan doen, glimlag vir die bedelaar en gaan koop ‘n brood vir hom/haar, skenk geld vir liefdadigheid, gaan gee die DBV se diere kos, wees entoesiasties oor ander mense se drome, luister behoorlik, gee iemand ‘n drukkie, wees daar in tye van nood – daar is soveel moontlikhede, sommige groot sommige klein, die een net so belangrik soos die ander.
5. Aanvaar ‘n uitdaging – hardloop ‘n maraton, klim ‘n berg, skud die ekstra ponde af, leer ‘n nuwe taal, skryf ‘n boek, gaan op reis, spaar geld, drink minder, hou op rook, beheer jou humeur of soek ‘n nuwe werk - elkeen van ons weet watter dinge in ons lewe kom van self en watter is werklik ‘n uitdaging.
So daar het julle dit nou, liewer laat as nooit – Januarie is darem nog nie verby nie so dit is nou my stuiwer in die ambeurs op die nuwe jaar en sy voornemens.
Tags: Algemeen, Dieper denke



Wonder kommentaar