Archive | Junie, 2010

Spa onskuld in Amsterdam

30 Jun

‘n Bederf dag by ‘n spa is maar net een manier om van alledaagse stres ontslae te raak. Dit is ook ‘n goeie manier om die laaaang wintermaande hier in Amsterdam te oorleef. Min het ek en Bolla (een van die skatte wat ek hier oor die water ontdek het met ‘n lus vir die lewe en ‘n hart van goud) geweet dat dit ook baie meer kan wees…..veral in Amsterdam.

Die opwinding het begin met ‘n rit op Scoot (manlief se bromponie). Scoot is die vorige dag gediens, maar die werktuigkundige (Mámá sal trots wees) moes gerook gewees het, want alhoewel Scoot 100 geknor het, het ons net 25km/uur gery. En dit was nou nie asof ons al klaar besig was om te vries nog voor ons opgeklim het nie.

Net duskant verkluim het ons egter by die spa aangekom en soos 2 opgewonde kinders getrippel om ons koue klere te verruil vir ons baaibroeke, lekker warm kamerjasse en slippers. Die vriendelik ontvangsdame het ook net vinnig vir ons vertel hoe dinge werk en is ons toe op met die trappe na die kleedkamer. Maar o grote petoors! Daar steek ons vas soos ‘n paar donkies wat nie verder wil stap nie en staar die kleedkamerdeur met groot oё aan.

Swart op wit is ons vertel dat geen baaibroeke in die spa-area toegelaat word nie. Ons onbegrip was nie net vanweё die feit dat die kennisgewing in Nederlands was nie, maar ook omdat ons ongewillig was om hierdie opdrag te verwerk.

Omdraai kon ons nie meer nie, want die euros was betaal en hoe verduidelik ons nou vir die liberale Nederlanders ons ingebore Afrikaner skuheid vir naaktheid?

So ons sluk toe maar so paar keer, giggel ‘n bietjie senuweeagtig en trek die koue klere (wat nou ietwat sweterig gevoel het) uit. Soos mes is die kamerjasse aangetrek en styf om die lywe toegevou – geen kans vir iemand om ‘n boud of iets dergliks te sien nie.

Na ‘n vinnige koffietjie vir moed stap ons toe af na die spa-area wat bestaan het uit onder andere ‘n binnehuise swembad, ‘n paar borrelbaddens en stoomkamers, twee verskillende saunas, ‘n infra-rooi kamer en ‘n buitelug bad (wat gelyk het soos ‘n wynvaatjie), elkeen met ‘n verskillende tempratuur om maksimum stres-verligting te verseker.

Teen hierdie tyd was daar ook ‘n paar ander spa-gangers in die rondte. Hulle het natuurlik nie ons skuheid vir ‘n kaal lyf gedeel nie en het rustig met NET ‘n klein handdoekie oor die skouer rondgeloop (amper soos wat ons met ons vadoeke doen wanneer ons skottelgoed was!).

Vir eers staan ons toe maar in ‘n hoekie, kamerjasse styf toegetrek en bedink ‘n plan oor hoe om hierdie storie te benader. Nie lank nie of die twee boerinne het ‘n plan beraam: ons sou net die baddens en kamers gebruik wat groot genoeg is vir 2 persone of waar daar niemand anders in was nie EN elkeen het ‘n beurt gekry om soos ‘n meerkat rond te kyk of daar dalk ‘n valk naby was wie ons kon sien in ons eva’s gewaad.

Eerste aan die beurt was die stoombad, juis gekies omdat die stoom darem enige kykers van buite sou verhoed om na ons te loer. In die veiligheid van die stoombad kon ons nie anders as om uit te bars van die lag oor ons benoudheid nie, want het ons dan nou nie almal dieselfde van alles nie.

Ons besluit toe sommer daar en dan dat hierdie preutsheid nie hoort by wêreldreisigers nie en dat ons maar eenvoudig moet maak asof ons hieraan gewoond is.

Van die stoombad is ons na die wynvaatjie aan die buitkant, ‘n lekker plek om vir ‘n slag die omgewing en sy mense (binne en buite) goed te bestudeer. So sien ons toe dat al die ander spa-gangers – vet, maer, kort, lank, oud of jonk – met selfvertroue rondloop en geensins gepla is oor enige iemand anders nie. Ek dink nie eers hulle het vir iemand anders gekyk nie.

Ons besef toe weereens dat ons geneigdheid om ander se lywe te beoordeel die grondslag is vir hoekom ons dink iemand anders kyk na ons. En sodra ons dink iemand kyk dalk, dan voel ons die al te bekende onsekerheid (en soms vrees) oor wat die persoon dalk oor ons mag dink.

En uiteindelik het ons begin om te ontspan en die spa te geniet. Soos die oggend aangestap het, het ons al hoe meer meer mak geraak tussen al die spa-gangers…..tot ons ewe skielik met die spreekwoordelike koue water emmer gegooi is – want daar, tussen die borrelbad en die stoomkamer staan toe ‘n man, poedelnakend kaal. En uit ‘n ander sauna kom nog een gestap!

Op daardie stadium het ons gewonder of ons sessie in die infra-rooi kamer ons moontlik kon laat halusineer. Ons val toe maar oor ons voete om weg te kom van die bedreiging en storm die naaste stoomkamer binne met net ‘n hand wat uitgesteek word om die kamerjasse op te hang……ons het behoorlik gebewe van senuweeagtigheid oor die moontlikheid dat een van die hallusinasies ons dalk sou volg en ook die stoomkamer sou wou gebruik!

Uiteindelik na nog ‘n koes-koes sessie met dubbele meerkat-sig het ons maar die aftog geblaas – ons verskoning – dit was tyd vir ons gesigbehandelings en masseerdery.

Maar ek sal erken – wat ‘n leersame ondervinding – vettes, langes, maeres, kortes………

Nou wonder ek, wil julle ook julle spa onskuld in Amsterdam kom verloor?

Dink aan een woord

29 Jun

Onlangs lees ek van ’n interessante gesprek tussen ’n Amerikaanse skryfster en ’n Italianer in Rome. Die Italianer was van mening dat daar een woord is wat ’n stad en meeste van sy inwoners kan beskryf. Sou jy oor die vermoë beskik om mense se gedagtes te lees wanneer hulle verby jou loop in die straat, sou jy agterkom dat meeste van hulle dieselfde gedagtes het. Watter woord ookal die gedagtes van die meerderheid van die inwoners saamvat, dit is die woord wat die stad beskryf.

Rome se woord volgens die Italianer is Seks en die Vatikaanstad s’n is Mag (alhoewel mens sou gedink het dit moet Geloof wees). Die Amerikaanse skryfster het weer gevoel Los Angeles se woord is Sukses en die woord vir New York is Strewe (achieve).

Dit het my aan die dink gesit oor watter woorde die stede in my lewe sou kon beskryf:

Kaapstad – die diamant van Suid-Afrika en my aangenome moederstad – sou ek beskryf met die woord Genot. Ek sou my wou verstout om te sê dat meeste van die Kapenaars poog om hulle lewe en hulle pragtige omgewing ten volle te geniet (en natuurlik so tussendeur ’n bietjie te werk!). Hoe anders met Tafelberg, Clifton se strande en die talle wynplase net ’n klipgooi ver en wêreldklas restaurante, spa’s en winkels om van te kies. Om nie eers te praat van al Kaapstad se kleurvolle inwoners en tradisies nie!

Amsterdam – my en manlief se huidige tuiste waarvandaan ons die wye wêreld kan verken – hier kies ek die woord Beproef. Met die dames van die nag wat werk in die rooilig distrik, spyskaarte wat verskillende soorte dagga in plaas van koffie lys en teaterstukke wat nie veel vir die verbeelding oorlaat nie, kom baie mense hierheen om die dinge wat in ander lande taboe is op die proef te stel.

Wanneer ’n mens jouself moet beskryf raak dit natuurlik heelwat moeiliker, want ons almal sou sekerlik verskeie woorde kon gebruik om die verskillende fasette van ons persoonlikhede te beskryf. Ook verander mens oor die jare en is dit dalk makliker om een woord te kies wat ’n seker tydperk in jou lewe beskryf.

Ek sou sê die woord Analiseer beskryf my in die algemeen. My grysstof is heeldag besig met die uitmekaar trek en ondersoek van dinge wat gebeur het of dinge wat gesê is, hoe my optrede deur iemand anders ervaar word en natuurlik die beplanning van my en manlief se toekoms.

Nou wonder ek wat sou julle dink is die een woord wat julle stad/dorp of julself beskryf?

Cupcake of ‘n kolwyntjie

29 Jun

Een van my groot liefdes in die lewe is bak en brou EN eet natuurlik. Ek en manlief se vakansie begrotings is gewoonlik as volg opgedeel: 30% vir verblyf, 20% vir vervoer en 50% vir eet en drink. Nou verstaan julle dalk my ewige stryd met die rondings van my lyf!

Voor ek verder my gedagtes kan laat kwyl oor ‘n cupcake, moet ek egter eers askies sê vir my Mámá (uitgespreek as Má-Máa….of te wel met een Franse flair). My Mámá is ‘n besondere kreatiewe vrou en kan enige dag om tower in ‘n onvergeetlike ervaring vol kleur en opwinding. Vir my – net die allerbeste Mámá waarvoor ek kan vra. So tussen ons, ek is nie altyd heeltemal seker of al haar pienk varkies op hok is nie, maar nou ja, ek is ‘n diereliefhebber en aanvaar vir Mámá, varkies en al.

In ons jonger dae was Mámá vreeslik ingestel op twee dinge: haar kinders moes regop stap (want sy het ‘n hekel gehad aan hang skouers) en ons moes suiwer Afrikaans praat (vandaar dat ek weet chips is aartappelskyfies, clutch is ‘n koppelaar, ‘n hi-fi is ‘n hoёtroustel en trifle is koekstruif….om maar ‘n paar op te noem).

Ek dink sy het geslaag om ons te laat regop stap, want sou jy dit waag om skouers na vore te trek waar Mámá jou gewaar, dan is jy beloon met ‘n stewige plathand tussen die blaaie. Maar suiwer Afrikaans, dit sukkel soms…..dit is moeilik om sommige woorde te onthou as mens meer gereeld die Engelse plaasvervanger hoor. Of om op hoogte te bly van al die nuutskeppings in ons taal soos vonkpos, laserskyf en webblad.

So lief soos wat ek vir Afrikaans is, moet ek erken dat sommige woorde net lekkerder is om in ‘n ander taal te sê. Een van hulle is cupcake. Dit rol so lekker van jou tong af en is vir ‘n verandering meer beskrywend as sy Afrikaanse ekwivalent – kolwyntjie. So askies Mámá vir die gemengde taal, maar ek kan nie anders nie!

Tyd vir kwyl – ek hou van cupcakes, sagte veerlig cupcakes wat in jou mond smelt en jou met een happie volslae geluk, al is dit net ‘n oomblik, laat ervaar. Cupcakes laat my tone omkrul van lekkerte, want ‘n cupcake is net joune om aan te smul……sonder enige skuldgevoelens omdat jy nie met manlief wil deel nie. Vir my is cupcakes soos beste vriendinne, ek kan altyd op hulle staatmaak om my te ondersteun en beter te laat voel as ek dit nodig het of sommer net saam die dag te geniet en die lewe te vier.

En dan is daar nog boonop soveel soorte om van te kies: sjokalde cupcakes met kondensmelk en versnipperde flake, wortel cupcakes met roomkaas-en-okkerneut versiersuiker ……en dan die wit-sjokolade-en-aarbei cupcakes wat ek die naweek gemaak het.

Laasgenoemde cupcakes het eenvoudig my voete onder my uitgeslaan (manlief erken dat hy ‘n bietjie bedreig voel deur hierdie cupcakes), maar die kombinasie van die wit sjokolade stukkies wat die cupcake met soetigheid vul en die aarbei versiersuiker wat my alewige lus na roomys stil, was meer as wat ek kon weerstaan. Ek was (of is eintlik nogsteeds) verlore!   

Nou wonder ek, lus julle ook vir cupcake of ‘n kolwyntjie of staan julle sterk?

Die wit broek

28 Jun

Vanoggend rol ek uit die bed met ‘n gekreun en gesteun. Die son skyn helder en die lug is blou, vir ‘n beter somersdag in Amsterdam kan jy nie vra nie. So daar is geen genade nie, ek moet my drafpakkie aanwikkel en die pad vat.

Maar my lyf skop ‘n kabaal op – my hare spring penorent, my oë pof op, die knieë klap en kraak oppad badkamer toe en die regtervoet kry onverwags ‘n steekpyn.

Ek bekyk myself in die spieël en skud my kop in volslae verbasing vir hierdie astrantheid. Ek kan dit nie glo nie. Die enigste bietjie oefening wat ek die vorige dag gekry het was om ‘n glasie of drie JC Le Roux te drink (as mens fees vier moet mens dit mos ordentlik doen!). Die klaagliedere van vanoggend kan egter geensins daardeur geregverdig word nie. Ek sou kon glo dat Isner of Mahut se lywe kon staak na afloop van hulle epiese Wimbledon wedstryd hierdie week, maar my lyf, aikona!

So, ek gaan gewoon voort en voor ek my weer kon kry is ek besig om in die straat af te skuifel. En soos ek draf langs die kanale oppad na Vondelpark (Amsterdam se Central Park) besef ek dat dit eindlik ‘n wonderlike manier is om wakker te word (dit vat my maar ‘n rukkie in die oggend). Met die voëltjies wat tjirp, die son wat saggies met sy warm kwas oor my wang streel en die blou lug wat uitspan sover soos ek kan sien, kan my siel nie anders as om te bokspring en die somer toe te juig nie.

Langs die kanaal sit ‘n ou tannie haar koerant en lees. Haar poedel sit langsaan en bekyk die wereld uit die hoogte aan. So asof hy mens is! In Vondelpark baljaar die honde sonder leibande en hardloop uitgelate oor die gras opsoek na hul makkers wat dalk ‘n storie of twee het om te vertel. Die fietspad krioel van fietsryers wat oppad is iewersheen en almal het ‘n glimlag in die oë (hoe dan nou anders!).

Soos ek draf dink ek oor wat ek vandag gaan aantrek. Ek dink aan my wit broek wat ek al laas maand uitgepak het vir die eerste draslag hierdie somer. Stilweg hoop ek dat die drawwery van die afgelope week of twee darem die hardnekkige winter vetjies ‘n knou gegee het.

Ek kan egter nie help om te wonder nie – gaan Randall Wicomb dalk vandag vir my ’n liedjie wil sing – die wit broek sit nie nice nie, die wit broek sit te styf……

Die skommelende luuksheid

27 Jun

Vir 2 jaar en amper 6 maande het ons daarsonder klaargekom. Wat? waar? en hoekom? mag julle vra (laat my dink aan die bord speletjie Cluedo……dit was Professor Pienk met die kandelaar in die studeerkamer).

Die wat – ‘n wasmasjien.

Die waar – ons gesellige voëlhok in Amsterdam.

Die hoekom – ons woonstel is klein, en as ek sê klein, dan bedoel ek klein, 50 vierkante meter is hoe klein (net groot genoeg vir ‘n oopplan kombuis en leefkamer, een slaapkamer en ‘n badkamer wat 3 teëls breed is en 15 teëls lank is (ja, stort aan die een punt en toilet aan die ander punt, die woord intiem beskryf dit baie goed). Spasie is dus min en moet mens mooi dink om al jou goed in te pas sonder om te veel leefspasie prys te gee (die dat die brood in die mikrogolfoond gestoor moet word, weg van Kees en sy maters).

So hoe gemaak met die vuil wasgoed wat die natuurlike gevolg is van elke week se draery? Dit was manlief se afdeling – ek kan weereens nie onthou of ek gese het of gevra het nie. Hy moes elke naweek 45 minute van sy besige sport-kyk-tyd opoffer om die sakke vol vuilklere na die wassery te dra en die wasding te doen. Dit het hom sommer ook ‘n paar oomblike van dinktyd gegee, of dit gebruik is of nie sal ek seker nooit weet nie. 

En uiteindelik is dit hier……ons splinternuwe wassende baba. Wel dit voel asof daar ‘n baba in die huis is…….ek staan gereeld op om te gaan luister vir enige tipe geluid, ek vee met liefde enige stof af wat lêplek kom soek het gedurende die dag/nag, ek gee gereeld waspoeier om te eet en versagter om te drink EN natuurlik gee die baba my werk – soos om sy maag leeg te maak, sy binnegoed op te hang en dan na ‘n dag of twee die binnegoed te stryk en/of weg te pak. 

Maar ai, ‘n wasmasjien het ek nou maar eenmaal geleer is ‘n luuksheid (amper gelykstaande aan ‘n bad hier in Amsterdam). Iets wat meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar, iets wat net altyd daar is om te gebruik en as ons seker eerlik is met onsself, iets waaroor ons kla omdat dit sinoniem met huiswerk is. Maar steeds, terwyl ek die witgoed gebukkend oor ‘n plastiekhouer met die hand moes was, het dit my altyd laat dink aan die vrouens in Afrika wat nie eers lopende water by die huis het nie (wat nog te sê van ‘n wasmajien) en wat dalk kilometers moet stap om nie net drinkwater maar ook waswater te kry. Ek kan ook nie dink dat hulle ‘n manlief het wat bereid is om te help nie.

So, ek lig my glasie JC Le Roux (ja, ‘n luuksheid opsigself hier oor die water) en sê dankie vir die voorreg om lopende water EN ‘n wasmasjien te kan hê. Manlief sê natuurlik dankie dat hy nou nie meer die wassery moet behartig nie.

Nou wonder ek, gaan julle dalk vandag of more ook ‘n glasie klink op julle skommelende luukshede of is julle wassende babas nie genoeg rede om fees te vier nie?

Kees van Muiswinkel

27 Jun

Kees van Muiswinkel het net een nag sy opwagting gemaak in ons huis. Die verwoesting wat hy agter gelaat het was darem nie te erg nie behalwe dat ons die volgende dag nie brood gehad het om te eet nie. Sy aankoms het ‘n verandering in ons lewenstyl veroorsaak namate ons besef het dat ons eenvoudig elke aand die brood en alle ander smulhappies in die mikrogolfoond of oond moes wegpak (daar is al lankal nie plek vir enige iets in die kaste nie).

Verskeie nagte is ons wel wakker gemaak deur Kees se geknaag aan ‘n plastieksak of iets dergliks. My liewe man was nie juis beïndruk nie en het helaas na ’n week of twee besluit om ‘n paar geweldadige muisvalle in die huis te stel (eers met kaas en toe met toiletpapier want dit het gelyk asof Kees een of ander obsessie met toiletpapier ontwikkel het). Na ‘n paar blou vingers en geen Kees het ons maar die aftog geblaas en besluit om in harmonie saam met Kees te probeer lewe………..tot Vrydagnag.

Ek het vergeet om my middagbroodjie wat in ‘n “ziplock” sakkie verpak was uit my handsak te haal. So teen 1 uur die oggend en salig in droomland skrik ons wakker van ‘n knaaggeluid (inbrekers staan nie ’n kat se kans in ons huis nie!). Na ‘n minuut van luister om uit te werk waaraan Kees knibbel, onthou ek meteens van die broodjie en besluit vanoggend is die oggend wat Kees van Muiswinkel sy moses tee kom.

Suutjies, voetjie vir voetjie word daar toe in die donker na die kombuis geskuifel met die naaste beskikbare kledingstuk in die hand (laat my terug dink aan die boereoorlog met die enigste verskil dat die onderbroek in my hand sekerlik minder skade sou verrig as ‘n mauser!). Ook maar skrikkerig vir ou Kees besluit ek om die onderbroek met ’n boog te gooi bo-oor die opening van die handsak sodat Kees geen kans het om te ontsnap. Gelukkig land die onderbroek sekuur op die handsak en doen ek ’n vinnige paar boudswaaie om die oorwinning te vier (ek gaan nie die grootte van die onderbroek of die handsak bespreek nie!). Vir veiligheid word die handsak toe vinnig in die badkamer toegemaak en word die man van die huis opgekommandeer om te doen wat gedoen moet word.

Na ’n ewigheid van doodse stilte in die badkamer is my senuwees klaar……maar niks gebeur nie. Skielik is daar ’n ongeduldige gebulder van binne dat Kees nie in die handsak is nie en dat dit ‘n vals alarm was. MAAR HOE?! Ek is dan soooo seker dat ek vir ou Kees uitoorlê het. Getrou aan my vroulike natuur vra (se?) ek dat daar nog vir oulaas ondersoek ingestel moet word en sowaar…Kees word gevind waar hy homself ingewurm tussen die twee snye brood sodat ‘n mens hom skaars kan sien.

Siestog, sy hartjie het omtrent 100 slae per minuut geklop nadat hy ontdek is. Groot oog staar ons toe vir mekaar want wat nou…nie een van ons kan dit oor ons hart kry om vir ou Kees leed aan te doen. Nie een van ons was bereid om op daardie stadium van die geveg af te loop na die grondvloer van ons woonstel in Amsterdam en om Kees by die deur uit te gooi nie (as verdediging wil ek net noem dat dit toe so -15 grade buite was).

’n Boer maak egter ’n plan en besluit word Kees se lot bepaal – toebind in ‘n sak pos by die venster uit. Om ons gewetes so bietjie te sus, pak ons toe maar die toebroodjie in vir padkos, want wie weet hoe lank mag Kees se sweeftog na moederaarde duur vanuit die tweede verdieping. En wie weet, dit kon ook dalk sy laaste maaltyd wees.

Die volgende oggend staan ons toe ietwat droewig op, want ou Kees was seker die naaste wat ons aan ‘n troeteldier op die stadium sou kon kom. Dit was seker ook nou nie heeltemal reg hom so alleen die wye wereld in te stuur nie. Weereens word daar gevra (gese?) of manlief kan gaan kyk of Kees ontsnap het uit die sak en of ons ’n paar oomblikke van stilte moes hou. Die terugvoer van onder was: “geen lyk…net een groot gat in die sak met die toebroodjie half gevreet”.

Nou wonder ek, sou Kees van Muiswinkel ons dalk wou bedank vir die avontuur in die sak of is hy besig om sy familie en vriende op te sweep om een aand wraak te kom neem?

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.