‘n Bederf dag by ‘n spa is maar net een manier om van alledaagse stres ontslae te raak. Dit is ook ‘n goeie manier om die laaaang wintermaande hier in Amsterdam te oorleef. Min het ek en Bolla (een van die skatte wat ek hier oor die water ontdek het met ‘n lus vir die lewe en ‘n hart van goud) geweet dat dit ook baie meer kan wees…..veral in Amsterdam.
Die opwinding het begin met ‘n rit op Scoot (manlief se bromponie). Scoot is die vorige dag gediens, maar die werktuigkundige (Mámá sal trots wees) moes gerook gewees het, want alhoewel Scoot 100 geknor het, het ons net 25km/uur gery. En dit was nou nie asof ons al klaar besig was om te vries nog voor ons opgeklim het nie.
Net duskant verkluim het ons egter by die spa aangekom en soos 2 opgewonde kinders getrippel om ons koue klere te verruil vir ons baaibroeke, lekker warm kamerjasse en slippers. Die vriendelik ontvangsdame het ook net vinnig vir ons vertel hoe dinge werk en is ons toe op met die trappe na die kleedkamer. Maar o grote petoors! Daar steek ons vas soos ‘n paar donkies wat nie verder wil stap nie en staar die kleedkamerdeur met groot oё aan.
Swart op wit is ons vertel dat geen baaibroeke in die spa-area toegelaat word nie. Ons onbegrip was nie net vanweё die feit dat die kennisgewing in Nederlands was nie, maar ook omdat ons ongewillig was om hierdie opdrag te verwerk.
Omdraai kon ons nie meer nie, want die euros was betaal en hoe verduidelik ons nou vir die liberale Nederlanders ons ingebore Afrikaner skuheid vir naaktheid?
So ons sluk toe maar so paar keer, giggel ‘n bietjie senuweeagtig en trek die koue klere (wat nou ietwat sweterig gevoel het) uit. Soos mes is die kamerjasse aangetrek en styf om die lywe toegevou – geen kans vir iemand om ‘n boud of iets dergliks te sien nie.
Na ‘n vinnige koffietjie vir moed stap ons toe af na die spa-area wat bestaan het uit onder andere ‘n binnehuise swembad, ‘n paar borrelbaddens en stoomkamers, twee verskillende saunas, ‘n infra-rooi kamer en ‘n buitelug bad (wat gelyk het soos ‘n wynvaatjie), elkeen met ‘n verskillende tempratuur om maksimum stres-verligting te verseker.
Teen hierdie tyd was daar ook ‘n paar ander spa-gangers in die rondte. Hulle het natuurlik nie ons skuheid vir ‘n kaal lyf gedeel nie en het rustig met NET ‘n klein handdoekie oor die skouer rondgeloop (amper soos wat ons met ons vadoeke doen wanneer ons skottelgoed was!).
Vir eers staan ons toe maar in ‘n hoekie, kamerjasse styf toegetrek en bedink ‘n plan oor hoe om hierdie storie te benader. Nie lank nie of die twee boerinne het ‘n plan beraam: ons sou net die baddens en kamers gebruik wat groot genoeg is vir 2 persone of waar daar niemand anders in was nie EN elkeen het ‘n beurt gekry om soos ‘n meerkat rond te kyk of daar dalk ‘n valk naby was wie ons kon sien in ons eva’s gewaad.
Eerste aan die beurt was die stoombad, juis gekies omdat die stoom darem enige kykers van buite sou verhoed om na ons te loer. In die veiligheid van die stoombad kon ons nie anders as om uit te bars van die lag oor ons benoudheid nie, want het ons dan nou nie almal dieselfde van alles nie.
Ons besluit toe sommer daar en dan dat hierdie preutsheid nie hoort by wêreldreisigers nie en dat ons maar eenvoudig moet maak asof ons hieraan gewoond is.
Van die stoombad is ons na die wynvaatjie aan die buitkant, ‘n lekker plek om vir ‘n slag die omgewing en sy mense (binne en buite) goed te bestudeer. So sien ons toe dat al die ander spa-gangers – vet, maer, kort, lank, oud of jonk – met selfvertroue rondloop en geensins gepla is oor enige iemand anders nie. Ek dink nie eers hulle het vir iemand anders gekyk nie.
Ons besef toe weereens dat ons geneigdheid om ander se lywe te beoordeel die grondslag is vir hoekom ons dink iemand anders kyk na ons. En sodra ons dink iemand kyk dalk, dan voel ons die al te bekende onsekerheid (en soms vrees) oor wat die persoon dalk oor ons mag dink.
En uiteindelik het ons begin om te ontspan en die spa te geniet. Soos die oggend aangestap het, het ons al hoe meer meer mak geraak tussen al die spa-gangers…..tot ons ewe skielik met die spreekwoordelike koue water emmer gegooi is – want daar, tussen die borrelbad en die stoomkamer staan toe ‘n man, poedelnakend kaal. En uit ‘n ander sauna kom nog een gestap!
Op daardie stadium het ons gewonder of ons sessie in die infra-rooi kamer ons moontlik kon laat halusineer. Ons val toe maar oor ons voete om weg te kom van die bedreiging en storm die naaste stoomkamer binne met net ‘n hand wat uitgesteek word om die kamerjasse op te hang……ons het behoorlik gebewe van senuweeagtigheid oor die moontlikheid dat een van die hallusinasies ons dalk sou volg en ook die stoomkamer sou wou gebruik!
Uiteindelik na nog ‘n koes-koes sessie met dubbele meerkat-sig het ons maar die aftog geblaas – ons verskoning – dit was tyd vir ons gesigbehandelings en masseerdery.
Maar ek sal erken – wat ‘n leersame ondervinding – vettes, langes, maeres, kortes………
Nou wonder ek, wil julle ook julle spa onskuld in Amsterdam kom verloor?
Wonder kommentaar