Kees van Muiswinkel het net een nag sy opwagting gemaak in ons huis. Die verwoesting wat hy agter gelaat het was darem nie te erg nie behalwe dat ons die volgende dag nie brood gehad het om te eet nie. Sy aankoms het ‘n verandering in ons lewenstyl veroorsaak namate ons besef het dat ons eenvoudig elke aand die brood en alle ander smulhappies in die mikrogolfoond of oond moes wegpak (daar is al lankal nie plek vir enige iets in die kaste nie).
Verskeie nagte is ons wel wakker gemaak deur Kees se geknaag aan ‘n plastieksak of iets dergliks. My liewe man was nie juis beïndruk nie en het helaas na ’n week of twee besluit om ‘n paar geweldadige muisvalle in die huis te stel (eers met kaas en toe met toiletpapier want dit het gelyk asof Kees een of ander obsessie met toiletpapier ontwikkel het). Na ‘n paar blou vingers en geen Kees het ons maar die aftog geblaas en besluit om in harmonie saam met Kees te probeer lewe………..tot Vrydagnag.
Ek het vergeet om my middagbroodjie wat in ‘n “ziplock” sakkie verpak was uit my handsak te haal. So teen 1 uur die oggend en salig in droomland skrik ons wakker van ‘n knaaggeluid (inbrekers staan nie ’n kat se kans in ons huis nie!). Na ‘n minuut van luister om uit te werk waaraan Kees knibbel, onthou ek meteens van die broodjie en besluit vanoggend is die oggend wat Kees van Muiswinkel sy moses tee kom.
Suutjies, voetjie vir voetjie word daar toe in die donker na die kombuis geskuifel met die naaste beskikbare kledingstuk in die hand (laat my terug dink aan die boereoorlog met die enigste verskil dat die onderbroek in my hand sekerlik minder skade sou verrig as ‘n mauser!). Ook maar skrikkerig vir ou Kees besluit ek om die onderbroek met ’n boog te gooi bo-oor die opening van die handsak sodat Kees geen kans het om te ontsnap. Gelukkig land die onderbroek sekuur op die handsak en doen ek ’n vinnige paar boudswaaie om die oorwinning te vier (ek gaan nie die grootte van die onderbroek of die handsak bespreek nie!). Vir veiligheid word die handsak toe vinnig in die badkamer toegemaak en word die man van die huis opgekommandeer om te doen wat gedoen moet word.
Na ’n ewigheid van doodse stilte in die badkamer is my senuwees klaar……maar niks gebeur nie. Skielik is daar ’n ongeduldige gebulder van binne dat Kees nie in die handsak is nie en dat dit ‘n vals alarm was. MAAR HOE?! Ek is dan soooo seker dat ek vir ou Kees uitoorlê het. Getrou aan my vroulike natuur vra (se?) ek dat daar nog vir oulaas ondersoek ingestel moet word en sowaar…Kees word gevind waar hy homself ingewurm tussen die twee snye brood sodat ‘n mens hom skaars kan sien.
Siestog, sy hartjie het omtrent 100 slae per minuut geklop nadat hy ontdek is. Groot oog staar ons toe vir mekaar want wat nou…nie een van ons kan dit oor ons hart kry om vir ou Kees leed aan te doen. Nie een van ons was bereid om op daardie stadium van die geveg af te loop na die grondvloer van ons woonstel in Amsterdam en om Kees by die deur uit te gooi nie (as verdediging wil ek net noem dat dit toe so -15 grade buite was).
’n Boer maak egter ’n plan en besluit word Kees se lot bepaal – toebind in ‘n sak pos by die venster uit. Om ons gewetes so bietjie te sus, pak ons toe maar die toebroodjie in vir padkos, want wie weet hoe lank mag Kees se sweeftog na moederaarde duur vanuit die tweede verdieping. En wie weet, dit kon ook dalk sy laaste maaltyd wees.
Die volgende oggend staan ons toe ietwat droewig op, want ou Kees was seker die naaste wat ons aan ‘n troeteldier op die stadium sou kon kom. Dit was seker ook nou nie heeltemal reg hom so alleen die wye wereld in te stuur nie. Weereens word daar gevra (gese?) of manlief kan gaan kyk of Kees ontsnap het uit die sak en of ons ’n paar oomblikke van stilte moes hou. Die terugvoer van onder was: “geen lyk…net een groot gat in die sak met die toebroodjie half gevreet”.
Nou wonder ek, sou Kees van Muiswinkel ons dalk wou bedank vir die avontuur in die sak of is hy besig om sy familie en vriende op te sweep om een aand wraak te kom neem?
Welkom by WordPress.
Baie dankie! Dorings en soms rose en Herriemerrie het my ge-inspireer om nie net om Sarie se webblad te skryf nie maar om ook die WordPress-ding te probeer!
Arme ou Kesie, maar nou darem seker gelukkig herenig met sy geliefdes
(dis nou as hy die vir ewig geskei is van sy geliefdes wat nog iewers in julle huis boer nie). Jare gelede het ek so ‘n troetelmuis in my kantoor gehad en hy het een dag besluit om saam met my huis toe te gaan in my handsak. Siestog, hy was nie so goed behandel soos Kees nie. Hy het nie eers die eer van ‘n minuut stilte ontvan nie.