Archive | Oktober, 2010

Die Van Rotwinkels

26 Oct

‘n Paar maande nadat ons vir Kees van Muiswinkel vaarwel geroep het, maak ons kennis met twee van Kees se familielede, die Van Rotwinkels.

Ons het dadelik geweet dit is nie Kees nie (ons het stilweg gehoop die outjie kom dalk terug), want die Van Rotwinkels het vanuit die staanspoor ons lewens verpes.

Weg was Kees se beskaafde geknaag aan sneesdoekies.

Instede daarvan het die Van Rotwinkels aan alles geknaag, van vrugte en plastieksakke tot elektriese bedrading.

Die brood wat in die oond veilig was teen Kees se middernagtelike eetlus, was ewe skielik ‘n skatkis van kilojoules wat die Van Rotwinkels sommer in hulle eerste besoek ontdek het.

Die Van Rotwinkels was ook geensins bang om ‘n lawaai op te skop nie.

Dit was al asof hulle uitgeluister het vir wanneer ons dieper begin asemhaal, net om dan te begin rondhardloop in die huis en ‘n kabaal op te skop.

Die laaste strooi op geduld se rug was toe Manlief een aand nog salig op die rusbank sit en televisie kyk en hy ‘n beweging uit die hoek van sy oog gewaar. Toe hy sy kop links draai sien hy een van die Van Rotwinkels sit rustig langs hom op die vensterbank en staar stip na hom.

Hierdie voorbarigheid van die Van Rotwinkels was vir Manlief net een te veel.

Met mening het Manlief die Van Rotwinkels begin uitdryf uit die huis. Sistematies is al die gate wat vir die Van Rotwinkels toegang kon gee, toegemaak. Alle kos is of in die yskas of lugdigte houers verpak en die nodige muisvalle is gestel.

Met muisvalle wat met garingdraad en grondboontjiebotter gedokter is en die asblik wat op ‘n skreufie oopgelaat is sodat die deksel vinnig toegeklap kon word as daar ‘n gekriewel binne in sou wees, was die Van Rotwinkels se dae getel.

Geen genade hierdie keer nie.

Voor die Van Rotwinkels egter viervoetig in enige van hierdie uiters gevaarlike situasies kon beland, het hulle besluit om groener weivelde te gaan soek.

Manlief glo dat hulle slim genoeg was om die gevare raak te sien. Ek dink dit het eerder te doen met die skaarste aan kos.

Dit kan ook wees die Van Rotwinkels eenvoudig onwelkom gevoel het en besluit het om nuwe losies te gaan soek.

Vir eers is ons muisvry, maar slaap steeds met die een oog oop as ons elke nou en dan ‘n geritsel in die mure hoor!

Groetnis
;)

Die baba-komplot (opvolg)

22 Oct

Ons almal wonder verseker oor waarheen het hierdie jaar gehardloop met ons. Ek het sowaar gister iemand in die straat met ‘n Kersvader-mus gewaar en mense rondom my begin al klaar te praat oor watter presente die jaar gekoop moet word.

Ietwat verbysterend vir my is dat dit slegs 3 maande is sedertdien ek vir die eerste keer die baba-komplot ontrafel het. Dit voel asof dit meer soos ‘n halwe jaar terug moes wees.

Die rede – soveel meer aanslae deur Ougat en sy trawante, nuwe lede wat toetreë tot die geledere en natuurlik ook die uitbreiding van bestaande tegnieke. Ek en Manlief is omtrent op ons hoede deesdae.

Alhoewel sommige van die aanslae heel subtiel is, soos ‘n skewe glimlag van ‘n blondekop-dogtertjie op die tram, trotse ouers wat oor die vooruitsigte van ‘n nuwe pienkvoet blom of die nuwe babaklere-winkel op die hoek van die straat, is daar ander wat veel meer woema-krag het.

So lees ek nou die dag in ons supermark se gratis tydskrif oor ‘n onderhoud wat met Clive Owen gevoer is. Soos gewoonlik word die artikel vergesel met ‘n paar foto’s van hierdie sexy man. Ek kon nie anders as om dieper in die rusbank weg te sink met die gedagte dat ek nou lekker kan ontspan deur te lees oor hierdie interessante akteur nie. Gmf, vinnig-vinnig tuimel ek van my behaaglike rusplek en maak hard kennis met die realiteit van die baba-komplot!

Op een of ander manier het Ougat en sy trawante dit reg gekry dat hierdie man swart op wit vir my vertel hoe hy ‘n baie bevoorregte lewe lei, maar dit eers was toe sy kinders gebore is dat hy besef het hoekom hy hier op aarde is. Volgens hom het die pienkvoete sin aan sy lewe gegee en was sy lewe behoorlik leeg sonder hulle.

Nou gedoriewaar, hoe hulle dit bewimpel het sal ek nou nie weet nie. Die man is aantreklik, gelukkig getroud, suksesvol en leef ‘n ongelooflike interessante lewe deur die maak van films reg oor die wêreld, so om te sê sy lewe was leeg met geen sin nie is darem ‘n kragtige opmerking om te maak. Ek het onmiddellik geweet hulle sit hier agter. Ek het darem nog so vir oulaas na die foto’s geloer voor ek die tydskrif van kant gemaak het.

Dan was daar onlangs Sussa se eerste verjaarsdagpartytjie. Ons leer van Hello Kitty (hoor nou eers sy was al in my kinderdae in al wat ‘n speelgoedwinkel), raak opgewonde oor die Hello Kitty-spaarbussie wat ons as present gekoop het (tipies ons wat sommer op 1 al ‘n lewensles wil inwerk) en maak seker die kamera is in werkende toestand.

Die dag word gevier in styl – ‘n regte kinderpartytjie met ballonne, papierhoedjies en fluitjies. Kinders van alle ouderdomme hardloop rond en ons hardloop agterna. Ons pronk ook trots oor die oulike Sussa, want sy is nie net die verjaarsdagmeisie, maar ook immers familie. 200 foto’s later en maagpyn van al die lekker eetgoed ry ons terug na Amsterdam met ‘n gevoel dat dit nou behoorlik pret was. Ons was egter steeds bly dat ons alleen huistoe kon gaan met ‘n rustige aandjie in die vooruitsigte.

Die mees onlangse aanslag is Mnr Ondeund, die eerste pienkvoet-aankomeling in ons vriendekring hier in Amsterdam. Skaars ‘n week oud knipoog hy vir ons onder deur sy mussie. Dit is so al asof hy wil sê: “julle het nog niks gesien nie, een van die dae het ek julle in die sakkie”.

Miskien is daar ‘n soort van kompetisie tussen die lede van die baba-komplot oor wie kan die meeste slagoffers binnehaal. ‘n Soort van oorwinningsbord wat telling hou van wie, wat en waar.

Mnr Ondeund het alreeds ‘n paar toertjies uitgehaal. Daar was geen komplikasies met die geboorte nie, hy slaap mooi soet sodat sy Mamma en Pappa nie kan kla oor min slaap nie en sover speel hy graag model-model vir foto’s op Facebook wat gemik is daarop om vir die wêreld te wys hoe oulik hy nou regtig is. Geen wonder ons wil die naweek gaan kuier nie.

Op die oomblik raak ek bietjie bekommerd oor Manlief en of hy nog sterk staan. Die rede is ‘n storie vir ‘n ander keer so ek sal mooi dophou om seker te maak ek jaag nie net spoke op nie.

Groetnis
;)

Malligheid se wenstreep

20 Oct

En so was dit toe ook Sondagmiddag, tyd om te kyk of al die gepraat nie net ‘n stofwolk in die woestyn was nie. Van Saterdagaand eet ek al pasta, drink energiedrankies en probeer so min as moontlik doen om al my energie te spaar.

Sondagmiddag net voor een begin ek die stryd saam met duisende ander drawwers wat die 21 kilometer wil aanpak. Met ‘n koel luggie net so duskant 15 grade en die sonnetjie wat vriendelik van bo die hele spektakel dophou, klap die skoot en met ‘n gejuig en hande in die lug begin ons die lang pad treë vir treë.

Die eerste 10 kilometer voel die bene sommer lus vir draf. Die asem jaag nie te veel nie en hoef ek ook nie te stop by een van die waterpunte nie, drink so sommer in die draf. Ek kry sommer ‘n gedagte dat ek dalk fikser is as wat ek gedink het.

So teen die 14de kilometer begin die bene knorrig te raak. Duidelik nie gewoond aan so ver draf nie en boonop eerder lus om die eerste draai huis toe te vat. Gedagtes van spyt oor die keuse om wel die half-maraton te hardloop in plaas van die 8 kilometer onderdeel begin my te treiter.

Die volgende waterpunt word ‘n gerieflike verskoning om te stop, bietjie te stap, ‘n halwe piesang te eet en water te drink. Op die stadium kan die brein nog somme maak oor hoe lank die laaste 6 kilometer moontlik kan vat. Die bene kon egter net sowel op vakansie gewees het, want soos die gesoute langasems verby my begin stroom voel dit amper of ek stilstaan.

Die laaste 3 kilometer was ‘n soort van hobbel draf om die linkerknie te spaar, want soveel van ‘n klakous het ek lanklaas gesien. Die feit dat ek nog op ‘n manier ‘n aanvaarbare tyd kon hardloop het my aan die gang gehou en teen die tyd dat ek die laaste 200 meter in die Olimpiese stadion moes aandurf het ek gevoel soos ‘n wêreldklas atleet. As ek net kon sou ek sommer bollemakiesie geslaan het oor die wenstreep.

3 dae later met knieë wat weer hul regte ouderdom voel, die spreekwoodelike oorwinnings-roomysbak leeg uitgelek en met die eerste gedagtes van die volgende drafslag wat besig is om pos te vat, is ek in my noppies dat ek het gehou het by my besluit.

Dankie vir almal se ondersteuning, volgende jaar skryf ek dalk weer in!

Water-aksie

15 Oct

Ek loer so vinnig in by blogland en sien vandag is daar een of ander water-aksie. Die tyd is te min om iets te probeer skryf so plan B is om almal te vermaak met iets interessants wat ons in Budapest gesien het.

Water is nie net gemaak vir bote nie – maar kan ook aangedurf word deur ‘n bus. Julle wonder, kyk maar – hierdie toerbus kan beide op land en water ry (of moet ek nou sê vaar).

Geniet die naweek, gesels weer volgende week!

;)

Malligheid vervolg (3 dae, 19 ure, 13 minute)

13 Oct

Uiteindelik terug van vakansie (alweer) en begin ek stadig maar seker die drade van my gewone lewe op te tel. Iewerste moet ek seker maar my Euros vir ‘n slag begin verdien en bietjie aandag gee aan al die dinge wat afgeskeep is die afgelope maand of wat.

Maar ai, dit is darem nou eenmaal lekker om te toer, so ek sien klaar uit na die volgende reisgeleentheid – wit Kersfees in Duitsland saam met spesiale vriende.

Vir die van julle wat gewonder het oor hoe vorder die malligheid, wel, ek het self begin wonder, want die vordering was maar min. Sedertdien die bekruipende 10 kilometer op 5 September het ek so tussendeur ‘n paar keer my drafskoene aan die voete gehad, maar geensins so baie soos wat my oefenprogram voorgeskryf het nie.

Ek het probeer om die fiksheid te handhaaf gedurende ons Turkye vakansie met ‘n paar draffies teen die bulte uit. Daarna het ‘n paar dae van slegte weer in Amsterdam my motivering erg ’n knou gegee, maar het ek darem nogsteeds ‘n paar kilometers aangedurf.

Die doodskoot was egter die laaste 12 dae in Italië met geen enkele gedagte aan die groot dag wat nader kruip nie. Ons dae was gevul met geurige pizza’s en pastas, tong-smeltende sjokolade, egte Italiaanse gelato en veerligte gebak. Om nie eers van die heerlike Italiaanse wyndrink sessies in die laaste somer-sonstrale te praat nie.

Terug by die huis is dit egter ‘n perd van ‘n ander kleur, maar nie vir een sekonde sal ek my toonkrul-lekker vakansie verruil om bietjie minder te suffer hierdie Sondag nie. Ek is gereed om te betaal vir die ekstra pond vleis om die heupe.

Met positiewe denke het ek gedink om eerder na my onlangse Italiaanse dieet te verwys na carbo-loading vir die ure van draf op Sondag. Dit is mos amper so belangrik soos die oefening self (altans, so sê hulle!).

Het gisteraand die pad aangedurf om die litte darem so bietjie los te maak. Die skok was darem nie te erg nie en kon ek vir so 40 minute rustig tjokkel. Aangesien die herfs stadig plek maak vir die winter het ek maar my mussie en handskoene uitgegrawe en was die koue lug geensins ‘n probleem.

In Vondelpark is ek verwelkom deur die herfsblare wat soos konfettie om my gewarrel het en so op ‘n manier het ek sommer tuis gevoel.

Vir eers het ek besluit om maar eerder weer die 21 kilometer aan te pak in plaas van die 10 kilometer. Van julle mag dalk wonder hoe dan so – die antwoord is dat ek dink ‘n stadige 21 kilometer is dalk makliker as ‘n vinnige 10 kilometer.

Ek sal Sondag vinnig agterkom of ek reg is of verkeerd.

So ons sal maar sien - 3 dae,  19 ure, 13 minute en ‘n paar sekondes.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.