‘n Paar maande nadat ons vir Kees van Muiswinkel vaarwel geroep het, maak ons kennis met twee van Kees se familielede, die Van Rotwinkels.
Ons het dadelik geweet dit is nie Kees nie (ons het stilweg gehoop die outjie kom dalk terug), want die Van Rotwinkels het vanuit die staanspoor ons lewens verpes.
Weg was Kees se beskaafde geknaag aan sneesdoekies.
Instede daarvan het die Van Rotwinkels aan alles geknaag, van vrugte en plastieksakke tot elektriese bedrading.
Die brood wat in die oond veilig was teen Kees se middernagtelike eetlus, was ewe skielik ‘n skatkis van kilojoules wat die Van Rotwinkels sommer in hulle eerste besoek ontdek het.
Die Van Rotwinkels was ook geensins bang om ‘n lawaai op te skop nie.
Dit was al asof hulle uitgeluister het vir wanneer ons dieper begin asemhaal, net om dan te begin rondhardloop in die huis en ‘n kabaal op te skop.
Die laaste strooi op geduld se rug was toe Manlief een aand nog salig op die rusbank sit en televisie kyk en hy ‘n beweging uit die hoek van sy oog gewaar. Toe hy sy kop links draai sien hy een van die Van Rotwinkels sit rustig langs hom op die vensterbank en staar stip na hom.
Hierdie voorbarigheid van die Van Rotwinkels was vir Manlief net een te veel.
Met mening het Manlief die Van Rotwinkels begin uitdryf uit die huis. Sistematies is al die gate wat vir die Van Rotwinkels toegang kon gee, toegemaak. Alle kos is of in die yskas of lugdigte houers verpak en die nodige muisvalle is gestel.
Met muisvalle wat met garingdraad en grondboontjiebotter gedokter is en die asblik wat op ‘n skreufie oopgelaat is sodat die deksel vinnig toegeklap kon word as daar ‘n gekriewel binne in sou wees, was die Van Rotwinkels se dae getel.
Geen genade hierdie keer nie.
Voor die Van Rotwinkels egter viervoetig in enige van hierdie uiters gevaarlike situasies kon beland, het hulle besluit om groener weivelde te gaan soek.
Manlief glo dat hulle slim genoeg was om die gevare raak te sien. Ek dink dit het eerder te doen met die skaarste aan kos.
Dit kan ook wees die Van Rotwinkels eenvoudig onwelkom gevoel het en besluit het om nuwe losies te gaan soek.
Vir eers is ons muisvry, maar slaap steeds met die een oog oop as ons elke nou en dan ‘n geritsel in die mure hoor!
Groetnis
Tags: Algemeen, Diere, Humor, Kees van Muiswinkel
LOL!!!
Ek is bly die Van Rotwinkels het n lyn gesny voordat julle van lyke ontslae moes word. Dalk moet julle waarskuwing bordjies opsit.
Ek sien hulle nie met ‘n oog nie, maar Oscar bring so dan en wan enetjie in!
My kinders het ook sulke onwelkome besoekers gehad. Lyk my dis algemeen in die lae lande?
Knip jy nog oog????