Gevaarlike mantra

21 Jan

Ek het ‘n mantra vir 2011……. onwetend dat my mantra gevaar inhou.

Niksvermoedend trek ek my drafklere aan by die werk, sit my sak op my rug en trek die bande styf. Dit is donker en koud, maar wikkel moet die boude wikkel. Dit is mos immers deel van my mantra.

Halfpad huis toe dwaal my gedagtes na die juistheid van my besluit om na die lang dag huis toe te wil draf. My bene voel bietjie lam, my oë wil-wil nie lekker fokus nie en die bors brand.

Die huise langs die kanaal se ligte wink vriendelik vir my en ek glimlag half skeef terug.

Ek sien nie die sypaadjie wat geniepsig sy sement hand oplig om my te pootjie nie -niemand glimlag ooit vir hom skeef nie; ons vertrap hom net gewoonlik onder ons voete sonder ‘n sweempie van dankbaarheid.

My reaksie is te stadig na die dag se breinspoel agter die rekenaar en ek voel hoe my regterbeen swik. Ek struikel nog twee treë en maak uiteindelik (wat na ‘n ewigheid voel) kennis met die ongenaakbaarheid van die sypaadjie.

Daar is niks vrouliks daaraan nie. Nee, dit is ‘n “seil-soos-’n-slang-Fiela” valslag.

Soos blits spring ek regop en kyk vervaart rond. Hoor ek dalk iemand skaterlag? Niemand in sig. Daar is tog iets. ‘n Trilling onder my voete wat my laat dink aan iemand wat met tevredenheid uit sy maag lag.

Ek kyk half wantrouerig na die sypaadjie.

‘n Vinnige ondersoek vir gebreekte bene of geswikte enkels lewer niks op nie. Die handskoene help duidelik nie net vir die koue nie, maar is ook goeie voorsorg teen sypaadjie skrape. Die regterboud en elmboog voel wel bietjie broos so ek hoop ek kan hulle ten minste inspan vir bietjie simpatie by die huis.

Versigtig om die sypaadjie nie weer aanstoot te gee nie, hervat ek bewerig my drafstap huistoe.

Van nou af sal ek onthou om met meer waardering vir sypaadjie te groet en dankie te sê dat hy my die pad huistoe vergesel.

Of anders gaan ek dalk my mantra so bietjie moet aanpas……..

Tags: , ,

Vra is vry

20 Jan

Ek is ‘n bok vir sports so hou sommer baie van die nuwe tag-speletjie wat begin is deur PlaasJupp en na my kant toe gestuur is deur Olga. Ek tag weer vir Gogga, Anna, Charms, Jan Twak en Skoor.

Die reêls – Vra my enige iets en ek moet antwoord. Vrae word beperk tot 10 per blogger. Speel saam en onthou om enige iemand anders ook nader te hark met ‘n tag.

Die speletjie is geldig tot hierdie inskrywing met ‘n nuwe een vervang word.

;)

Tags: ,

2011

17 Jan

Robbie Wessels sing in een van sy liedjies van “liewe ouers” – wel, vandag wil ek sê  – liewe ouers maar die jaar het vinnig begin! Ek sukkel nog om van die nuwe jaar blues ontslae te raak en te besluit oor alles wat ek hierdie jaar wil doen en so warrel die eerste 2 weke verby.

Hier is my mantra vir hierdie jaar:

1. Prikkel jou brein – sit af die televisie, lees meer, voer interessante gesprekke, dink ‘n bietjie, doen ‘n paar blokkieraaisels of speel kaart of Suduko – enige iets wat die grysstof so bietjie laat bokspring in hulle skuiling hier aan die bokant van jou lyf.

2. Eet lekker maar gesond – die lewe is te kort om te probeer leef van water en rys alleen, probeer nuwe respete, eet meer groente, vrugte, vesels en vis, maar bederf jouself ook met smelt-in-die-mond-en-toon-omkrul lekkernye vir wanneer daar ‘n geleentheid is om te vier - belangrikste is om die balans te onthou.

3. Wikkel daai boude – gaan stap met die honde, klim die trappe na jou kantoor op die 5de verdieping, sit ekstra woema in agter die stoot van die grassnyer of stofsuier, gebruik vir ‘n slag jou gym lidmaatskap, swem, dans – enige iets wat die bloedselle so bietjie laat bruis deur die nou gange van jou are.

4. Maak ‘n verskil in iemand anders se lewe – gaan kuier by die oumense van die tehuis in die buurt, pas iemand se kinders op sodat die ma vir ‘n slag haar hare kan doen, glimlag vir die bedelaar en gaan koop ‘n brood vir hom/haar, skenk geld vir liefdadigheid, gaan gee die DBV se diere kos, wees entoesiasties oor ander mense se drome, luister behoorlik, gee iemand ‘n drukkie, wees daar in tye van nood – daar is soveel moontlikhede, sommige groot sommige klein, die een net so belangrik soos die ander.

5. Aanvaar ‘n uitdaging – hardloop ‘n maraton, klim ‘n berg, skud die ekstra ponde af, leer ‘n nuwe taal, skryf ‘n boek, gaan op reis, spaar geld, drink minder, hou op rook, beheer jou humeur of soek ‘n nuwe werk - elkeen van ons weet watter dinge in ons lewe kom van self en watter is werklik ‘n uitdaging. 

So daar het julle dit nou, liewer laat as nooit – Januarie is darem nog nie verby nie so dit is nou my stuiwer in die ambeurs op die nuwe jaar en sy voornemens.

;)

Tags: ,

Die baba-komplot (nog ‘n opvolg)

22 Dec

Tyd maak steeds gebruik van Red Bull se vlerkies en is dit so te sê Kersfees.

Europe lê snoesig toegemaak onder ‘n wit winterskombers, die Kaap braai in die son en die Namibiërs bid vir reën.

Ek kan nie anders as om die jaar af te sluit met ‘n opvolg op die baba-komplot nie. Wie weet, dit mag heel moontlik die laaste aflewering wees alvorens ek moet blog oor hoe dit voel om deel van die baba-komplot te wees.

Die rede – Manlief is in die sakkie van Ougat en sy trawante en ek word elke dag gekonfronteer met ‘n stip kyk van die nuwe aankomeling in ons huis – Wally Beer – wat so half-beskuldigend-half-pleitend vir my wil sê “Nou wanneer maak julle plan vir ‘n speelmaatjie vir my!!”.

Die weerstand is dus nou soos ‘n damwal wat gekraak het, met die eerste water wat begin deursypel…..dit is net ‘n kwessie van tyd voor dit heeltemal verbrokkel.

Die uitklophou vir Manlief was Mnr Ondeund in sy Springbok-babapakkie tydens een van ons tradisionele kuiers van rugby-kyk-en-braai by sy trotse ouers.

As daar nou een iets is wat na aan Manlief se boerehart lê, dan is dit nou rugby. Of dit nou skole-rugby, Cravenweek-rugby, provinsiale-rugby of toets-rugby is, dit maak nie saak nie, dit gaan oor die GAME. En Mnr Ondeund het dit 100% uitgebuit. Manlief kan net nie uitgepraat raak oor die pienkvoet in groen-en-goud nie.

Ek moes geweet het toe Mnr Ondeund eers onskuldig vir my glimlag en toe salig aan die slaap raak in my arms dat ek geensins die vrede moes vertrou nie. Maar ai, ek was erg trots op my prestasie om die kleinding aan die slaap te kry. Selfs Manlief se opmerking dat ek heel natuurlik lyk met hom in my arms het my nie gepla nie.

Dan het ek vierkantig geval vir die geheime agent – Wally Beer. Eers was dit bedoel as krismispresent vir Sussa, maar die sagte lyfie, die vet pensie en die ek-wil-graag-by-julle-bly gesiggie het gou genoeg in my hart gekruip en kon ek nie anders as om ‘n ander present vir Sussa te gaan koop en Wally Beer te hou nie.

Stilweg het ek my wys gemaak dat dit sommer lekker afleiding sal wees vir Ougat wanneer hy met my skype (want hoe lank kan ek hom nou op my eie vermaak deur die rekenaarskerm).

Maar nou weet ek van beter. Ougat het ontdek dat ek nog altyd ‘n sagte plek vir ‘n teddiebeer gehad het en toe saam met HEMA-kettingwinkels gekonkel dat Wally Beer op al wat ‘n advertensie moet verskyn. Boonop was Wally Beer verseker ‘n labrador in sy vorige lewe, want die kyk is baie dieselfde en dit is baie moeilik om nee te sê. So, toe krummel ek soos ‘n koekie, stukkie vir stukkie.

So nou weet ek nie meer so mooi of ons sterk staan, of ons net mekaar bluf en of ons name ook op die oorwinningsbord van die baba-komplot aangeteken kan word nie.

Ons sal maar moet sien wat 2011 vir ons inhou.

‘n Geseënde Kersfees en ‘n prettige 2011 vir julle almal!!

;)

Tags: , , , ,

Kerswense

13 Dec

Dit is alweer daardie tyd van die jaar – families pak hulle kersbome en versierings uit, gasvrouens hang feë-liggies op, die radio stasies speel krismis liedjies en verbruikers stormloop na die winkels.

Moenie vergeet van omie kersvader en sy trawante (of sinterklaas en sy swarte piete soos hulle hier in Nederland bekend staan) nie.

Besighede en kliënte organiseer verskeie eindjaar-funksies. Familie en vriende maak gereed vir die jaarlikse feesvieringe.

Vir baie is dit ‘n tyd van nabetragring, vir ander ‘n tyd van alleen wees en verlange na kosbare oomblikke saam met geliefdes.

Kos en presente word in oorvloed gekoop deur die wat dit kan bekostig.

Die wat minder bevoorreg is vul hulle dae met hoop dat die nuwe jaar verligting sal bring.

Ek wil vir elkeen wat hierdie lees, ‘n feesseisoen toewens van:

* rus vir die siel in plaas van ‘n gejaag om die perfekte partytjie te reël;

* dae gevul met liefde van diegene wat die meeste betekenis aan jou lewe gee in plaas van ‘n oorvloed van onbenullige aardse besittings;

* die verhaal van die geboorte van Jesus in plaas van die storie van kersvader;

* veiligheid in die gemeenskap in plaas van hoë mure en vrees in die hart; en

* ‘n nuwe jaar waarin positiewe denke drome in werklikheid omskep in plaas van die donkerte wat negatiewe gedagtes tot gevolg het.

Geseënde feesgroete vir almal.
Knipoog ;)

Ps: Die sneeu is nie net ‘n teken dat winter hier is om te bly (pantoffels en al) nie, maar ook dat dit tyd is om hard te werk. Dit dan die rede vir die skaarste aan skrywes. Een van die dae is ek weer terug met gereelde Om te wonder stories!

Tags: ,

Die Van Rotwinkels

26 Oct

‘n Paar maande nadat ons vir Kees van Muiswinkel vaarwel geroep het, maak ons kennis met twee van Kees se familielede, die Van Rotwinkels.

Ons het dadelik geweet dit is nie Kees nie (ons het stilweg gehoop die outjie kom dalk terug), want die Van Rotwinkels het vanuit die staanspoor ons lewens verpes.

Weg was Kees se beskaafde geknaag aan sneesdoekies.

Instede daarvan het die Van Rotwinkels aan alles geknaag, van vrugte en plastieksakke tot elektriese bedrading.

Die brood wat in die oond veilig was teen Kees se middernagtelike eetlus, was ewe skielik ‘n skatkis van kilojoules wat die Van Rotwinkels sommer in hulle eerste besoek ontdek het.

Die Van Rotwinkels was ook geensins bang om ‘n lawaai op te skop nie.

Dit was al asof hulle uitgeluister het vir wanneer ons dieper begin asemhaal, net om dan te begin rondhardloop in die huis en ‘n kabaal op te skop.

Die laaste strooi op geduld se rug was toe Manlief een aand nog salig op die rusbank sit en televisie kyk en hy ‘n beweging uit die hoek van sy oog gewaar. Toe hy sy kop links draai sien hy een van die Van Rotwinkels sit rustig langs hom op die vensterbank en staar stip na hom.

Hierdie voorbarigheid van die Van Rotwinkels was vir Manlief net een te veel.

Met mening het Manlief die Van Rotwinkels begin uitdryf uit die huis. Sistematies is al die gate wat vir die Van Rotwinkels toegang kon gee, toegemaak. Alle kos is of in die yskas of lugdigte houers verpak en die nodige muisvalle is gestel.

Met muisvalle wat met garingdraad en grondboontjiebotter gedokter is en die asblik wat op ‘n skreufie oopgelaat is sodat die deksel vinnig toegeklap kon word as daar ‘n gekriewel binne in sou wees, was die Van Rotwinkels se dae getel.

Geen genade hierdie keer nie.

Voor die Van Rotwinkels egter viervoetig in enige van hierdie uiters gevaarlike situasies kon beland, het hulle besluit om groener weivelde te gaan soek.

Manlief glo dat hulle slim genoeg was om die gevare raak te sien. Ek dink dit het eerder te doen met die skaarste aan kos.

Dit kan ook wees die Van Rotwinkels eenvoudig onwelkom gevoel het en besluit het om nuwe losies te gaan soek.

Vir eers is ons muisvry, maar slaap steeds met die een oog oop as ons elke nou en dan ‘n geritsel in die mure hoor!

Groetnis
;)

Tags: , , ,

Die baba-komplot (opvolg)

22 Oct

Ons almal wonder verseker oor waarheen het hierdie jaar gehardloop met ons. Ek het sowaar gister iemand in die straat met ‘n Kersvader-mus gewaar en mense rondom my begin al klaar te praat oor watter presente die jaar gekoop moet word.

Ietwat verbysterend vir my is dat dit slegs 3 maande is sedertdien ek vir die eerste keer die baba-komplot ontrafel het. Dit voel asof dit meer soos ‘n halwe jaar terug moes wees.

Die rede – soveel meer aanslae deur Ougat en sy trawante, nuwe lede wat toetreë tot die geledere en natuurlik ook die uitbreiding van bestaande tegnieke. Ek en Manlief is omtrent op ons hoede deesdae.

Alhoewel sommige van die aanslae heel subtiel is, soos ‘n skewe glimlag van ‘n blondekop-dogtertjie op die tram, trotse ouers wat oor die vooruitsigte van ‘n nuwe pienkvoet blom of die nuwe babaklere-winkel op die hoek van die straat, is daar ander wat veel meer woema-krag het.

So lees ek nou die dag in ons supermark se gratis tydskrif oor ‘n onderhoud wat met Clive Owen gevoer is. Soos gewoonlik word die artikel vergesel met ‘n paar foto’s van hierdie sexy man. Ek kon nie anders as om dieper in die rusbank weg te sink met die gedagte dat ek nou lekker kan ontspan deur te lees oor hierdie interessante akteur nie. Gmf, vinnig-vinnig tuimel ek van my behaaglike rusplek en maak hard kennis met die realiteit van die baba-komplot!

Op een of ander manier het Ougat en sy trawante dit reg gekry dat hierdie man swart op wit vir my vertel hoe hy ‘n baie bevoorregte lewe lei, maar dit eers was toe sy kinders gebore is dat hy besef het hoekom hy hier op aarde is. Volgens hom het die pienkvoete sin aan sy lewe gegee en was sy lewe behoorlik leeg sonder hulle.

Nou gedoriewaar, hoe hulle dit bewimpel het sal ek nou nie weet nie. Die man is aantreklik, gelukkig getroud, suksesvol en leef ‘n ongelooflike interessante lewe deur die maak van films reg oor die wêreld, so om te sê sy lewe was leeg met geen sin nie is darem ‘n kragtige opmerking om te maak. Ek het onmiddellik geweet hulle sit hier agter. Ek het darem nog so vir oulaas na die foto’s geloer voor ek die tydskrif van kant gemaak het.

Dan was daar onlangs Sussa se eerste verjaarsdagpartytjie. Ons leer van Hello Kitty (hoor nou eers sy was al in my kinderdae in al wat ‘n speelgoedwinkel), raak opgewonde oor die Hello Kitty-spaarbussie wat ons as present gekoop het (tipies ons wat sommer op 1 al ‘n lewensles wil inwerk) en maak seker die kamera is in werkende toestand.

Die dag word gevier in styl – ‘n regte kinderpartytjie met ballonne, papierhoedjies en fluitjies. Kinders van alle ouderdomme hardloop rond en ons hardloop agterna. Ons pronk ook trots oor die oulike Sussa, want sy is nie net die verjaarsdagmeisie, maar ook immers familie. 200 foto’s later en maagpyn van al die lekker eetgoed ry ons terug na Amsterdam met ‘n gevoel dat dit nou behoorlik pret was. Ons was egter steeds bly dat ons alleen huistoe kon gaan met ‘n rustige aandjie in die vooruitsigte.

Die mees onlangse aanslag is Mnr Ondeund, die eerste pienkvoet-aankomeling in ons vriendekring hier in Amsterdam. Skaars ‘n week oud knipoog hy vir ons onder deur sy mussie. Dit is so al asof hy wil sê: “julle het nog niks gesien nie, een van die dae het ek julle in die sakkie”.

Miskien is daar ‘n soort van kompetisie tussen die lede van die baba-komplot oor wie kan die meeste slagoffers binnehaal. ‘n Soort van oorwinningsbord wat telling hou van wie, wat en waar.

Mnr Ondeund het alreeds ‘n paar toertjies uitgehaal. Daar was geen komplikasies met die geboorte nie, hy slaap mooi soet sodat sy Mamma en Pappa nie kan kla oor min slaap nie en sover speel hy graag model-model vir foto’s op Facebook wat gemik is daarop om vir die wêreld te wys hoe oulik hy nou regtig is. Geen wonder ons wil die naweek gaan kuier nie.

Op die oomblik raak ek bietjie bekommerd oor Manlief en of hy nog sterk staan. Die rede is ‘n storie vir ‘n ander keer so ek sal mooi dophou om seker te maak ek jaag nie net spoke op nie.

Groetnis
;)

Tags: , ,

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.