Ons almal wonder verseker oor waarheen het hierdie jaar gehardloop met ons. Ek het sowaar gister iemand in die straat met ‘n Kersvader-mus gewaar en mense rondom my begin al klaar te praat oor watter presente die jaar gekoop moet word.
Ietwat verbysterend vir my is dat dit slegs 3 maande is sedertdien ek vir die eerste keer die baba-komplot ontrafel het. Dit voel asof dit meer soos ‘n halwe jaar terug moes wees.
Die rede – soveel meer aanslae deur Ougat en sy trawante, nuwe lede wat toetreë tot die geledere en natuurlik ook die uitbreiding van bestaande tegnieke. Ek en Manlief is omtrent op ons hoede deesdae.
Alhoewel sommige van die aanslae heel subtiel is, soos ‘n skewe glimlag van ‘n blondekop-dogtertjie op die tram, trotse ouers wat oor die vooruitsigte van ‘n nuwe pienkvoet blom of die nuwe babaklere-winkel op die hoek van die straat, is daar ander wat veel meer woema-krag het.
So lees ek nou die dag in ons supermark se gratis tydskrif oor ‘n onderhoud wat met Clive Owen gevoer is. Soos gewoonlik word die artikel vergesel met ‘n paar foto’s van hierdie sexy man. Ek kon nie anders as om dieper in die rusbank weg te sink met die gedagte dat ek nou lekker kan ontspan deur te lees oor hierdie interessante akteur nie. Gmf, vinnig-vinnig tuimel ek van my behaaglike rusplek en maak hard kennis met die realiteit van die baba-komplot!
Op een of ander manier het Ougat en sy trawante dit reg gekry dat hierdie man swart op wit vir my vertel hoe hy ‘n baie bevoorregte lewe lei, maar dit eers was toe sy kinders gebore is dat hy besef het hoekom hy hier op aarde is. Volgens hom het die pienkvoete sin aan sy lewe gegee en was sy lewe behoorlik leeg sonder hulle.
Nou gedoriewaar, hoe hulle dit bewimpel het sal ek nou nie weet nie. Die man is aantreklik, gelukkig getroud, suksesvol en leef ‘n ongelooflike interessante lewe deur die maak van films reg oor die wêreld, so om te sê sy lewe was leeg met geen sin nie is darem ‘n kragtige opmerking om te maak. Ek het onmiddellik geweet hulle sit hier agter. Ek het darem nog so vir oulaas na die foto’s geloer voor ek die tydskrif van kant gemaak het.
Dan was daar onlangs Sussa se eerste verjaarsdagpartytjie. Ons leer van Hello Kitty (hoor nou eers sy was al in my kinderdae in al wat ‘n speelgoedwinkel), raak opgewonde oor die Hello Kitty-spaarbussie wat ons as present gekoop het (tipies ons wat sommer op 1 al ‘n lewensles wil inwerk) en maak seker die kamera is in werkende toestand.
Die dag word gevier in styl – ‘n regte kinderpartytjie met ballonne, papierhoedjies en fluitjies. Kinders van alle ouderdomme hardloop rond en ons hardloop agterna. Ons pronk ook trots oor die oulike Sussa, want sy is nie net die verjaarsdagmeisie, maar ook immers familie. 200 foto’s later en maagpyn van al die lekker eetgoed ry ons terug na Amsterdam met ‘n gevoel dat dit nou behoorlik pret was. Ons was egter steeds bly dat ons alleen huistoe kon gaan met ‘n rustige aandjie in die vooruitsigte.
Die mees onlangse aanslag is Mnr Ondeund, die eerste pienkvoet-aankomeling in ons vriendekring hier in Amsterdam. Skaars ‘n week oud knipoog hy vir ons onder deur sy mussie. Dit is so al asof hy wil sê: “julle het nog niks gesien nie, een van die dae het ek julle in die sakkie”.
Miskien is daar ‘n soort van kompetisie tussen die lede van die baba-komplot oor wie kan die meeste slagoffers binnehaal. ‘n Soort van oorwinningsbord wat telling hou van wie, wat en waar.
Mnr Ondeund het alreeds ‘n paar toertjies uitgehaal. Daar was geen komplikasies met die geboorte nie, hy slaap mooi soet sodat sy Mamma en Pappa nie kan kla oor min slaap nie en sover speel hy graag model-model vir foto’s op Facebook wat gemik is daarop om vir die wêreld te wys hoe oulik hy nou regtig is. Geen wonder ons wil die naweek gaan kuier nie.
Op die oomblik raak ek bietjie bekommerd oor Manlief en of hy nog sterk staan. Die rede is ‘n storie vir ‘n ander keer so ek sal mooi dophou om seker te maak ek jaag nie net spoke op nie.
Groetnis
Tags: Baba-komplot, Humor, liefde
Wonder kommentaar